Lenings aan Trusts

Some pointers for planning your estate
February 2, 2017
Crunching the numbers: Budget 2017
March 8, 2017

Nuwe belastingwetgewing, en spesifiek ‘n nuwe artikel 7C wat in die Inkomstebelastingwet ingevoeg is, het ‘n groot invloed op leningsrekenings wat deur ‘n trust aan ‘n verbonde persoon verskuldig is. Artikel 7C tree in werking op 1 Maart 2017 en is van toepassing op leningsrekenings wat ontstaan het voor of na 1 Maart 2017.

Hierdie artikel is van toepassing ten opsigte van enige lening, voorskot of krediet wat ‘n natuurlike persoon, of ‘n maatskappy of BK wat ‘n verbonde persoon is, direk of indirek aan die trust voorsien het indien —

  • die trust ‘n verbonde persoon met betrekking tot die leninggewer is, wat kortliks beteken dat daardie persoon of familielede van daardie persoon begunstigdes van die trust is; en
  • daardie lening geen rente dra nie of rente dra teen minder as die amptelike rentekoers van SARS, wat tans 8% per jaar beloop.

Kortliks kom dit daarop neer dat die rente wat deur die leninggewer verbeur word, beskou word as ‘n skenking. Die verskil tussen die bedrag bereken as 8% van die lening en die rente wat betaal word op die lening, word geag ‘n skenking te wees wat daardie persoon op die einde van elke belastingjaar, waartydens die lening bestaan, gemaak het en is onderhewig  aan skenkingsbelasting wat jaarliks betaal moet word. ‘n Persoon is geregtig om tot R100,000 per jaar te skenk sonder om aanspreeklik te wees vir skenkingsbelasting, en skenkingsbelasting van 20% is betaalbaar op enige skenkings wat daardie vrystelling te bowe gaan.

Veronderstel A het ‘n lening van R10 miljoen gemaak aan Trust waarop geen rente betaalbaar is nie en sodanige lening het vir die volle belastingjaar bestaan. Dit beteken dat A ‘n geagte skenking gemaak het van R800,000 (R10 miljoen x 8%) en na die jaarlikse vrystelling van R100,000 aanspreeklik is vir skenkingsbelasting op R700,000. Teen 20% beloop hierdie skenkingsbelasting R140,000.

Die skenkingsbelasting sal jaarliks betaalbaar wees vir solank as wat die betrokke lenings, waarop hierdie artikel van toepassing is, in die trust se boeke bestaan en dit is belangrik om daarop te let dat dit nie ‘n eenmalige skenkingsbelasting is nie.

Die bepalings van artikel 7C is nie van toepassing nie ten opsigte van sekere leningsrekenings verskuldig deur ‘n trust:

  • Lening aan ‘n trust wat kwalifiseer as ‘n openbare weldaadsorganisasie.
  • Lening aan ‘n trust waar al die begunstigdes gevestigde belange het wat toeskryfbaar is aan die begunstigde se bydrae tot die trust.
  • ‘n “Spesiale trust” soos gedefinieer, synde ‘n trust wat uitsluitlik opgerig is vir die voordeel van persone met sekere gestremdhede.
  • In die mate wat die betrokke lening deur die trust aangewend is vir die aankoop of bou van die primêre woonhuis van die leninggewer of sy/haar gade.
  • ‘n Internasionale transaksie waarop artikel 31(1) van toepassing is.
  • ‘n Lening ingevolge ‘n Sharia finansieringsreëling.
  • ‘n Lening deur ‘n maatskappy wat geag word ‘n dividend deur die maatskappy te wees.

Indien ‘n leningsrekening in die trust ontstaan het as gevolg van die toedeling van inkomste of kapitaal aan ‘n begunstigde, sal daardie bedrag ook vrygestel wees van artikel 7C, indien die trustees, in hulle diskresie, besluit het om sodanige distribusie op leningsrekening te krediteer, en die trustakte daarvoor voorsiening maak. Hierdie vrystelling sal egter nie van toepassing wees as daardie aksies plaasgevind het op versoek of by wyse van ooreenkoms met die begunstigde nie.

Die toepassing van hierdie artikel kan vermy word indien daar rente teen gemelde 8% op die leningsrekening betaalbaar is. Daar moet egter in gedagte gehou word dat hierdie rente-inkomste in die hande van die leninggewer is, en die rente in die trust slegs belastingaftrekbaar is indien bewys kan word dat hierdie rente aangegaan is in die voortbrenging van trustinkomste. Dit kan as voorbeeld van toepassing wees waar die trust ‘n huureiendom gekoop het, maar nie waar die trust die fondse aangewend het om in aandele te belê nie.

Dit word aanbeveel dat daar teruggegaan word in die geskiedenis ten einde ‘n behoorlike ontleding te doen van leningsrekenings in trusts, om te bepaal hoe sodanige leningsrekenings ontstaan het en hoe daardie fondse aangewend is. Terselfdertyd moet seker gemaak word of die betrokke trustakte daarvoor voorsiening maak dat die trustees in hulle diskresie mag besluit om toedelings wat gemaak is, nie onmiddellik uit te betaal nie.

Met behoorlike beplanning, tesame met professionele adviseurs, is dit in baie gevalle moontlik om in ‘n groot mate die negatiewe implikasies van hierdie nuwe wetgewing te vermy. Alle trustees van trusts en persone wat leningsrekenings in trusts het, word aangemoedig om professionele advies in die verband in te win.

Hierdie artikel is algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X