Sekere riglyne vir boedelbeplanning

Appointing a financial manager: Do you know what to look for?
August 24, 2015
Selling of Assets by individuals: When will it attract CGT?
September 18, 2015

A4Die hoofdoel met boedelbeplanning is om toe te sien dat soveel as moontlik van jou geakkumuleerde rykdom vir jou eie voordeel aangewend word en vir die maksimum voordeel van jou afhanklikes by jou dood.

“Boedelbeplanning” word gedefinieer as die proses waarin ‘n program geskep en bestuur word om:

  1. Jou bates tydens jou leeftyd in stand te hou, te vermeerder en te beskerm;
  2. Die mees effektiewe en voordelige verdeling daarvan aan opvolgende generasies te verseker.

Daar bestaan ‘n algemene wanindruk dat boedelbeplanning net gaan oor die maak van ‘n testament of om jou sake so te reël dat boedelbelasting bespaar word.

Elke persoon se boedel is uniek en dus behoort die struktuur volgens haar/sy eie unieke behoeftes en doelwitte opgestel te word.

Die tekort aan likiditeit by afsterwe kan uiteraard baie druk plaas op die oorblywende familie van ‘n oorledene, omdat die tekort aan kontant kan veroorsaak dat die eksekuteur bates sal moet verkoop om kontant te genereer.

Likiditeit beteken daar moet genoeg kontant beskikbaar wees om:

  1. Boedelbelasting te betaal;
  2. Boedeluitgawes en administrasiekoste te betaal;
  3. Voorsiening te maak vir belastingverpligtinge wat met dood mag ontstaan, soos kapitaal- winsbelasting.

Tegnies word die boedel gevries totdat die Meester van die Hooggeregshof Eksekuteursbriewe uitgereik het.

Afsterwe sonder ‘n geldige testament, beteken dat jou boedel as intestaat hanteer sal word, en die wetgewing oor intestate erfopvolging sal geld. Die wet op Intestate erfopvolging bepaal dat die langslewende eggenoot die grootste gedeelte van R125 000 of ‘n kindsdeel erf. ‘n Kindsdeel word bepaal deur die totale waarde van die boedel deur die hoeveelheid kinders en die oorlewende eggenoot te deel. Waar partye binne gemeenskap van goedere getroud is, gaan een helfte van die boedel na die langslewende eggenoot as gevolg van die huwelik, en die ander helfte vererf volgens die intestate erfopvolging. Indien daar geen oorlewende eggenoot of afhanklikes is nie, word die boedel verdeel tussen die ouers en kinders. Waar daar geen ouers of kinders is nie word dit verdeel tussen die naaste bloedverwante.

‘n Eksekuteur is geregtig op die volgende vergoeding:

  1. ‘n Ooreengekome vergoeding in die Testament; of
  2. 3.5% van die bruto bate waarde; of
  3. 6% op die inkomste wat na dood die boedel toeval.

Eksekuteursvergoeding is onderhewig aan BTW waar die eksekuteur so geregistreer is.

Indien die waarde van die boedel meer as R3.5 miljoen rand beloop, is boedelbelasting  betaalbaar op die balans meer as die R3.5 miljoen, met die uitsondering van eiendom wat aan ‘n langslewende eggenoot bemaak is, aangesien dit vrygestel is van boedelbelasting en/of kapitaalwinsbelasting.

Artikel 3 van die Wet op die Onderverdeling van Landbougrond verhoed die onderverdeling van landbougrond en die registrasie van onverdeelde aandele in meer as een persoon se naam, en dit is onderhewig aan die Minister se goedkeuring.

‘n Minderjarige is ‘n kind jonger as 18 jaar, en enige bemakings aan so ‘n persoon word in die Voogdyfonds gehou, wat onder die administrasie van die Meester van die Hooggeregshof val. Hierdie fondse is nie vrylik beskikbaar nie en word gewoonlik belê teen onder markverwante rentekoerse. Dit is dus aan te bevele dat voorsiening vir minderjarige kinders gemaak moet word deur ‘n trust.

Die Wet op Beslote Korporasies bepaal dat, onderhewig aan ‘n samewerkingsooreenkoms, waar ‘n erfgenaam ‘n ledebelang moet erf (in terme van ‘n testament), die toestemming van die oorblywende lede (indien enige) verkry moet word. Indien toestemming nie gegee word binne 28 dae nadat dit deur die eksekuteur versoek is nie, is die eksekuteur verplig om die ledebelang te verkoop.

Artikel 3(3)(d) van die Boedelbelastingwet bepaal dat waar bates aan ‘n trust oorgedra word gedurende die boedelbeplanner se leeftyd, maar hy/sy as trustee die mag behou wat hom/haar sou toelaat om eensydiglik van trustbates ontslae te raak vir sy eie of sy begunstigdes se voordeel, dan mag dit wees dat sulke bates beskou kan word as sy/haar eie en deel sal vorm van sy/haar boedel vir doeleindes van boedelbelasting.

Waar partye binne gemeenskap van goedere getroud is, het die oorlewende eggenoot ‘n eis vir 50% van die gekombineerde boedel, wat die werklike waarde van die boedel met 50% verminder. Die boedel word verdeel nadat al die skuld in die oorlye boedel betaal is (uitgesluit begrafniskoste en boedelbelasting, omdat hierdie verpligtinge van die bestorwe boedel is en nie die gesamentlike boedel nie). Slegs die helfte van die bates in so ‘n boedel kan dus bemaak word.

Die opbrengs van lewensversekeringspolisse kan gebruik word om:

  1. Inkomste te genereer om na afhanklikes om te sien terwyl met die boedel gehandel word;
  2. Boedeluitgawes te betaal, vir begrafniskoste, inkomstebelasting, boedel-administrasie en boedelbelasting.

Die opbrengs van alle Suid Afrikaanse “huishoudelike” polisse uitgeneem op die beplanner se lewe, en waar daar geen begunstigde genomineer is nie, sal binne die bestorwe boedel val.

Waar ‘n begunstigde wel genomineer is op die polis, sal die opbrengs as bates in die boedel geag word vir boedelbelasting doeleindes, afgesien daarvan dat die opbrengs direk betaal word aan die begunstigde (onderhewig aan die gedeeltelike uitsluitings gebaseer op die polis- premies).

Polisse wat uitgesluit is van insluiting vir doeleindes van boedelbelasting,  is koop en verkoop, sleutelman polisse, en daardie polisse gesedeer aan ‘n eggenoot of kind in terme van ‘n huwelikskontrak.

Sekere bates in ‘n bestorwe boedel is uitgesluit van kapitaalwinsbelasting:

  1. Bates vir persoonlike gebruik (met sekere uitsonderings);
  2. Bates bemaak aan die langslewende eggenoot;
  3. Bates bemaak aan ‘n openbare voordeelorganisasie;
  4. Die opbrengs van lewensversekeringspolisse, belange in voorsorg- of annuïteitfondse, belange in pensioenfondse;
  5. Die eerste R2 miljoen ten opsigte van die primêre woning;
  6. Die eerste R750 000 ten opsigte van klein sakebates;
  7. Geldeenhede, uitgesluit goud en platinummunte.

This article is a general information sheet and should not be used or relied upon as professional advice. No liability can be accepted for any errors or ommissions nor for any loss or damage arising from reliance upon any information herein. Always contact your financial adviser for specific and detailed advice.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X