Korttermyn versekering: Gevolge van onder- of oorversekering

Taxation of trusts
October 27, 2015
Is the buyer of an immovable property responsible for paying the seller’s outstanding municipal account?
October 27, 2015

A3Sommige mense glo in korttermyn versekering, ander weer nie. Indien u wel daaraan glo om korttermyn versekering uit te neem, moet u seker maak dat u bates nie onder- of oorverseker is nie. Indien u bates oorverseker is, beteken dit u betaal onnodige premies vir dekking wat u nie sal kan eis nie. Indien u onderverseker is, dink u moontlik dat u vir ‘n sekere bedrag dekking het, terwyl u in der waarheid nie soveel dekking geniet as wat u gedink het nie.

Oorversekering

Kom ons kyk na Mary se geval:

Tien jaar gelede het Mary vir haar ‘n motor gekoop en dit verseker teen die destydse markwaarde van R50 000. Alhoewel die markwaarde van haar motor met verloop van tyd verlaag het, het sy nooit haar versekeringsmaatskappy daaroor ingelig nie.

Gister was sy in ‘n ongeluk waarin haar motor afgeskryf is. Sy dien ‘n eis by haar versekeringsmaatskappy in vir R50 000, aangesien dit die bedrag is waarvoor haar motor verseker was.

Aangesien die motor teen markwaarde verseker was, word die versekering se uitbetaling op die huidige markwaarde van die motor gebaseer. Ten tyde van die ongeluk was die motor se markwaarde slegs R10 000.

Mary is baie ongelukkig aangesien sy premies betaal het op ‘n markwaarde van R50 000 en nou slegs R10 000 van die versekeringsmaatskappy ontvang het.

Wat het hier gebeur?

Mary was oorverseker, want haar motor was verseker vir meer as sy markwaarde. Dit was haar verantwoordelikheid om haar versekeringsmaatskappy van tyd tot tyd te kontak sodat die versekerde waarde van haar motor afwaarts aangepas kan word, aangesien sy markwaarde met verloop van tyd verlaag het. Aangesien die motor se versekeringspremies op sy markwaarde gebaseer was, sou haar premie verlaag het elke keer as sy die versekeringsmaatskappy daaraan herinner het om die markwaarde van haar motor afwaarts aan te pas. Sy sou dan nie premies betaal het vir oormatige dekking waarteen sy in elk geval nie kon eis nie.

Onderversekering

Kom ons kyk nou na John se geval:

Hy het sy huis oorspronklik vir R50 000 gekoop en dit verseker teen die destydse markwaarde van R50 000. Tien jaar later tref ‘n ramp hom en sy huis brand af. Ten tyde van die brand was die huis se waarde R100 000. John het egter nooit die versekeringsmaatskappy in kennis gestel dat die markwaarde van sy huis oor die jare verhoog het nie.

John dien ‘n eis vir R100 000 by sy versekeringsmaatskappy in, maar die versekeringsmaatskappy betaal slegs R25 000 aan hom uit.

Wat het hier gebeur?

Die versekeringsmaatskappy het die ratio bereken tussen die waarde waarvoor John sy huis verseker het en wat dit werd was op die tydstip toe dit afgebrand het, en wel as volg:

Waarde verseker / Huidige markwaarde = R50 000/R100 000 = 50%

Die ratio van 50% beteken dat die huis slegs vir die helfte van sy markwaarde van R100 000 verseker was ten tyde van die brand.

Die versekeringsmaatskappy het hierna die pro rata ratio van 50% toegepas op die werklike versekerde bedrag om die bedrag van sy versekeringsuitbetaling soos volg te bereken:

Bedrag verseker x Ratio onderverseker = R50 000 x 50% = R25 000

Indien John van tyd tot tyd sy versekeringsmaatskappy gekontak het om die versekerde bedrag van sy huis te verhoog tot die werklike markwaarde, sou die versekeringsdekking op sy huis meer in lyn met sy werklike markwaarde van R100 000 gewees het toe sy huis afgebrand het. Sy premies sou van tyd tot tyd verhoog het om die toename in die versekerde bedrag te weerspieël.

Albei bogenoemde scenario’s illustreer dieselfde feit: dit is uiters noodsaaklik dat u versekeringsmaatskappy akkurate en opgedateerde inligting het waarvolgens hulle die bedrag van u versekeringsdekking en –premies kan bepaal. Aan die einde van die dag is dit u verantwoordelikheid om die markwaarde van u bates dop te hou en u versekeraar in kennis te stel van enige veranderings in die markwaarde wat ‘n aanpassing in die versekerde waarde van die bate mag vereis.

Verwysingslys:

Toegang verkry op 18 September 2015

  • SAIA Verbruikers Opvoedingspamflet geskryf deur Denis Beckitt (Titel direk vertaal uit Engels)

Hierdie artikel bevat slegs algemene inligting en moenie gebruik of beskou word as professionele raad nie. Geen aanspreeklikheid word aanvaar vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade weens vertroue op hierdie inligting nie. Raadpleeg altyd u finansiële raadgewer vir spesifieke  en gedetailleerde advies. (E&OE)

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X