Die 2016-belastingseisoen is oop

Transfer of a property: Is vat or transfer duty payable?
June 17, 2016
The Companies Act’s solvency and liquidity test
July 25, 2016

A_b-01-01Soos elke jaar die geval is het die Kommissaris van die SAID onlangs ‘n kennisgewing uitgereik ingevolge waarvan die 2016-belastingseisoen ‘n aanvang neem. Individue kan nou vanaf 1 Julie hul jaarlikse belastingopgawes vir die 2016 jaar van aanslag, wat op 29 Februarie2016 ten einde geloop het, indien.

In Staatskoerant no. 40041 (gedateer 3 Junie 2016) is aangekondig watter belastingpligtiges jaarlikse belastingopgawes vir die 2016-belastingjaar moet indien. Die volgende tydraamwerke is van toepassing:

  • Vir ‘n maatskappy, binne ‘n jaar van sy jaareinde. (Bv. ‘n maatskappy met ‘n finansiële jaareinde van 31 Maart 2016 moet sy 2016-belastingopgawe teen 31 Maart 2017 indien);
  • Alle ander belastingbetalers (insluitende natuurlike persone en trusts) se opgawes moet op die laatste ingedien word teen:
    • 23 September 2016 vir individue en trusts wat steeds opgawes per hand voltooi;
    • 25 November 2016 vir individue wat gebruik maak van die SAID se eFiling-stelsel (uitgesluit belastingbetalers wat vir voorlopige belasting geregistreer is);
    • 31 Januarie 2017 vir alle individue en trusts voorlopige belastingbetalers is en wat die SAID se eFiling-stelsel gebruik.

Soos voorheen mag maatskappye slegs die SAID se eFiling-stelsel gebruik om opgawes in te dien; opgawes wat per hand voltooi is, word luidens die bogenoemde kennisgewing nie meer toegelaat vir maatskappye nie.

Verskeie kriteria word gelys wat, indien daaraan voldoen word, inhou dat ‘n belastingpligtige verplig is om ‘n opgawe by die SAID  in te dien. Byvoorbeeld, alle maatskappye, of hulle in Suid-Afrika geïnkorporeer is al dan nie, is verplig om opgawes in te dien as Suid-Afrika die plek is vanwaar die maatskappy effektiewelik bestuur word. Maatskappye wat nie effektiewelik in Suid-Afrika bestuur word nie maar wat in Suid-Afrika geïnkorporeer is moet ook opgawes indien, asook maatskappye wat elders as in Suid-Afrika geïnkorporeer is maar inkomste uit ‘n Suid-Afrikaanse bron verdien.

Belastingbetalers, uitgesluit maatskappye, moet opgawes indien as hulle gedurende die 2016-belastingjaar enige besigheid of bedrywighede in Suid-Afrika beoefen  het. Dit sluit nie die blote verdien van ‘n salaris in nie. ‘n Verskeidenheid ander faktore word gelys waarkragtens belastingbetalers (uitgesluit maatskappye) opgawes moet indien. Vir natuurlike persone wat belastinginwoners is, is die  vrystelling van die verpligting om ‘n opgawe in te dien hoofsaaklik dat as die persoon gedurende die jaar ‘n salaris van ‘n enkele werkgewer ontvang het wat nie R350 000 te bowe gaan nie en as die persoon se rente-inkomste  minder as R23 800 was (of minder as R36 500 as die persoon ouer as 65 is).

‘n Hele aantal natuurlike persoon belastingbetalers is dus potensieel vrygestel van die verpligting om ‘n inkomstebelastingopgawe in te dien, selfs al sou hulle vir inkomstebelastingdoeleindes geregistreer wees. Nietemin, al sou dit nie kragtens die bepalings van die kennisgewing nodig wees om ‘n belastingopgawe in te dien nie mag dit steeds voordelig wees om dit wél te doen. Natuurlike persoon belastingbetalers verkeer dikwels onder die wanindruk dat die indien van ‘n opgawe noodwendig aanleiding gee tot die trefwydte van belasting. Dit is natuurlik nie waar nie en vele mag reeds in die loop van die jaar die belastinggevolge moes verduur het van belastingaftrekkings van hul salarisse deur middel van die lopende-betaalstelsel. Hierdie praktyk is niks anders nie as ‘n kontantvloei-meganisme wat ingestel is om ‘n deurlopende toevloei van kontant na die fiskus te verseker. Enige bydraes tot tot byvoorbeeld ‘n mediese- en pensioenfonds word verreken teen die jaarlikse belastingverpligting wanneer die jaarlikse belastingopgawe geassesseer word. Die beginsel wat hier geld is dat alle inkomste belasbaar is, ongeag of ‘n opgawe voltooi is. Aftrekkings kan egter alleenlik geëis word deur die invul van ‘n belastingopgawe en veral natuurlike persone behoort die geleentheid aan te gryp om so te maak.

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van die artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde raad. (E&OE)

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X