Voldoening aan dividendbelasting-vereistes

A dent on your record?
November 7, 2016
Proposed amendment to the taxation of trusts
November 23, 2016

3Ons kliënte is daarvan bewus dat dividendbelasting reeds met ingang 1 April 2012 die ou Sekondêre Belasting op Maatskappye (SBM) vervang het. SBM was, kortliks gestel, ‘n belasting op maatskappye en is bereken as ‘n faktor van dividende wat deur die maatskappy verklaar is. Hierdie werkwyse was egter ietwat uit pas met internasionale  tendense en dit het ook sekere anomalieë tot gevolg gehad toe Suid-Afrika met ander lande oor dubbelbelastingooreenkomste onderhandel het. Die internasionale norm is eerder wat ons ook vandag in Suid-Afrika het, naamlik ‘n belasting op aandeelhouers (in teenstelling met ‘n belasting op die maatskappy wat dividende verklaar) welke belasting weerhou word van die betaling van dividende aan aandeelhouers. Die dividendbelasting word teen ‘n koers van 15% gehef. Byvoorbeeld, as ‘n persoon (nie vrygestel van dividendbelasting nie) dividende  ter waarde van R100 van ‘n Suid-Afrikaanse  maatskappy ontvang sal die maatskappy slegs R85 aan die aandeelhouer betaal terwyl R15 weerhou sal word en namens die aandeelhouer aan SAID betaal word.

Hoewel na ons beste wete die meeste van ons kliënte begrip toon vir hoe die dividendbelastingstelsel werk, kom dit voor asof baie van ons korporatiewe kliënte onbewus is van hul indienverpligtinge wat gepaard gaan met sowel dividendverklarings as dividende ontvang. Daar word van maatskappye vereis om ‘n dividendopgawe in te dien wanneer ‘n dividend verklaar word [afdeling 64K(1A)] maar persone moet ook ‘n opgawe indien as hulle ‘n dividend ontvang wat vrygestel is van dividendbelasting. Aangesien alle Suid-Afrikaanse inwonende maatskappye in die reël vrygestel is van dividendbelasting, beteken dit prakties dat inwonende Suid-Afrikaanse maatskappye ook opgawes vir dividendbelasting moet indien ten opsigte van alle Suid-Afrikaanse dividende wat hulle ontvang.

Die nodige dividendbelastingopgawes (SAID se vorms DTR01 en DTR02) moet ingedien word teen die einde van die maand wat volg op die maand waarin die betrokke dividend betaal/ontvang is. Die betaling vir dividendbelasting (waar van toepassing) moet die opgawe vergesel.

Dus, selfs as ‘n maatskappy slegs dividende betaal en ontvang wat nie aan dividendbelasting onderhewig is nie, is die vrygestelde belastingbetaler steeds verplig om die vereiste opgawes in te dien. Die opgawes is ook nie die enigste voldoeningsvereiste wat nagekom moet word nie: waar ‘n aandeelhouer staatmaak op ‘n dubbelbelastingooreenkoms waarkragtens ‘n verminderde dividendbelastingkoers toegepas moet word (in teenstelling met die wetlik opgelegde 15% wat binnelands van toepassing is) of waar die persoon geheel en al van dividendbelasting vrygestel is, moet so ‘n belastingbetaler die maatskappy van hierdie status in kennis stel by wyse van ‘n verklaring, tesame met ‘n onderneming om die maatskappy van enige toekomstige verandering in hierdie status te verwittig. By afwesigheid van so ‘n verklaring moet die maatskappy nog steeds dividendbelasting weerhou, selfs al sou die aandeelhouer, objektief geoordeel, vrygestel wees van die dividendbelasting.

Dit behoort duidelik te wees dat nie-nakoming van die toepaslike dividendbelasting-vereistes – selfs al lyk die vereistes op die oog af onbeduidend en hulle in die praktyk weliswaar nie ernstig deur SAID gepolisieer word nie  – riskant is. Nie-nakoming kan ‘n beduidende uitwerking hê sou daar ondersoek ingestel word en bevind word dat ‘n belastingbetaler in hierdie verband oortree het.

Hierdie artikel is algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X