Registrasie vir voorlopige belasting

A new twist in the question: Is the buyer of an immovable property responsible for paying the seller’s outstanding municipal account?
July 25, 2016
Application for a loan
August 16, 2016

A_b-01-01Baie belastingbetalers dien hul belastingopgawes jaarliks in, onbewus daarvan dat hulle moontlik kragtens die Wet op Inkomstebelasting, 58 van 1962, ook as voorlopige belastingbetalers beskou kan word. In sy eenvoudigste vorm is voorlopige belasting bedoel om deur die loop van die jaar  gereelde kontantvloei na die fiskus te verseker. In hierdie sin dien dit ongeveer dieselfde doel as die LBS-stelsel maar is voorlopige belasting tipies van toepassing op inkomste van ‘n nie-salaris aard.

Die volgende persone word geag voorlopige belastingbetalers te wees kragtens die Vierde Bylae tot die Wet op Inkomstebelasting en is dus verplig om voorlopige belastingopgawes in te dien  en die gepaardgaande betalings van voorlopige belasting bo en behalwe die verpligtinge kragtens hul jaarlikse belastingopgawes, te maak:

  • Elke persoon (buiten ‘n maatskappy maar ingeslote ‘n trust) wat gewoonlik enige inkomste buiten inkomste in die vorm van “besoldiging”, soos gedefinieer, verdien;
  • Elke maatskappy; en
  • Enige persoon wat deur die Kommissaris van SAID in kennis gestel word dat hy of sy ‘n voorlopige belastingbetaler is.

Die voorgaande sluit egter die volgende uit:

  • Enige natuurlike persoon wat nie enige inkomste uit die bedryf van ‘n besigheid verdien nie, mits die belasbare inkomste van die persoon nie die volgende te bowe gaan nie:
    • Die belastingdrempel ( vir 2016: R73,650 vir individue jonger as 65, R 114,800 vir individue jonger as 75 en R128,500 vir alle ander individue; of
    • R30,000 met betrekking tot rente, dividende of huurgeld ontvang uit die verhuring van onroerende eiendom;
  • Bestorwe boedels;
  • Sekere goedgekeurde openbare welsynsorganisasies;
  • Regspersone; en
  • Kleinsake-befondsingsentiteite;

Baie belastingbetalers mag heeltemal onbewus wees van die feit dat van hulle verwag word om, as voorlopige belastingbetalers, opgawes in te dien. Dit is veral tipies die geval met individue wat ‘n salaris verdien maar wat byvoorbeeld ‘n tweede eiendom verhuur om ‘n bykomende inkomste te verdien. Hierdie individue sal, ingevolge die bogenoemde voorvereistes, moet verseker dat hulle halfjaarlikse voorlopige belastingopgawes indien en die vereiste bedrag betyds aan SAID betaal. Die betrokke keerdatums is 31 Augustus en 28/29 Februarie elke jaar. Versuim om op hierdie wyse aan die vereistes te voldoen sal tot gevolg hê dat beduidende boetes opgelê word vir laat betaling of vir onderberaming  van die verskuldigde voorlopige belasting: versuim om ‘n opgawe teen die keerdatum in te dien word beskou as sou die belastingbetaler ‘n nulopgawe ingedien het.

Soos die geval is met LBS, funksioneer die voorlopige belastingstelsel egter nie as belasting per se nie maar eerder as ‘n vooruitbetaling van ‘n belastingaanspreeklikheid wat nog bepaal moet word. Dus, wanneer die finale belasting  betaalbaar vir die jaar van aanslag vasgestel is nadat die jaarlikse inkomstebelastingopgawe ingedien is, word die belastingaanspreeklikheid verminder met die voorlopige belastingbetalings wat reeds gemaak is (en LBS weerhou) en is die verskil dan verskuldig aan SAID, of aan die belastingbetaler as ‘n terugbetaling van voorlopige belasting wat te veel betaal is.

Hierdie artikel is algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X