Finansiële risikobestuur vir u klein besigheid: Weet u wat om te doen?

Incentivising non-retirement savings in South Africa through Tax free savings accounts
February 25, 2016
Tax rates for 2016
February 25, 2016

A3Is dit werklik nodig om te weet hoe om finansiële risiko te bestuur? Die antwoord is ‘n besliste “Ja!” Dit kan die verskil beteken tussen ‘n suksesvolle besigheid en ‘n besigheid wat gedwing word om sy deure te sluit. Maak seker dat u u besigheid die beste moontlike kans gee om te oorleef en te floreer deur finansiële risikobestuur te verstaan en dit te implementeer.

Finansiële risikobestuur kan in die volgende stappe verdeel word:

  1. Verstaan wat finansiële risiko beteken

‘n Finansiële risiko is enige gebeurtenis of omstandigheid wat potensieel ‘n negatiewe impak op die finansies van ‘n besigheid kan hê.

  1. Identifiseer finansiële risiko’s van toepassing op die besigheid

Identifiseer al die finansiële risiko’s waaraan u kan dink wat moontlik ‘n impak op die besigheid kan hê. Oorweeg dit om ‘n dinkskrum en/of SWOT-analise saam met werknemers te hou ten einde so veel as moontlik potensiële risiko’s te identifiseer.

‘n Voorbeeld van ‘n finansiële risiko is wanneer kliënte wat op krediet by u koop nie meer in staat is om hul uitstaande rekeninge te betaal nie.

  1. Assesseer elke finansiële risiko individueel

Bepaal so goed as wat u kan, met behulp van die beskikbare inligting, hoe waarskynlik dit is dat elke risiko die besigheid kan affekteer en wat die moontlike bedrae van die skade (negatiewe impak) kan wees indien die risiko realiseer.

As ons die voorbeeld kan neem van kliënte wat nie meer hul uitstaande rekeninge kan vereffen nie, is die volgende matriks handig om die waarskynlikheid en omvang van die skade te bepaal indien die risiko sou realiseer. Aanvaar dat die waarskynlikheid en potensiële skade van kliënte wat nie meer hul uitstaande rekeninge kan betaal nie hoog is, soos op die matriks met ‘n “X” aangedui.

Waarskynlikheid van skade (kliënte wat nie rekeninge kan betaal nie)

Hoog

Medium

Laag

Geskatte omvang van skade

Groot skadebv. R100 000

X

Medium skade
bv. R30 000
Klein skadebv. R5 000
  1. Gee aandag aan risiko’s om die negatiewe impak op u besigheid tot die minimum te beperk

Identifiseer en gee aandag aan daardie risiko’s waaroor u die meeste beheer het en fokus u finansiële risikobestuurspogings daarop. Beheer in hierdie konteks sal die vermoë wees om die waarskynlikheid en potensiële skade te minimaliseer indien die risiko sou realiseer.

Skep en implementeer ‘n aksieplan om elk van die geselekteerde risiko’s tot aanvaarbare vlakke te verlaag.

Oorweeg die uitneem van versekering om die besigheid teen eksterne risiko’s te beskerm waaroor die besigheid nie veel beheer het nie, bv. natuurrampe.

Om verder uit te brei op die voorbeeld: die matriks toon dat dit hoogs waarskynlik is dat kliënte nie hul rekenings sal kan betaal nie, en die gevolglike bedrag van slegte skuld kan aansienlik wees. Daar is maatreëls wat die besigheid kan implementeer om die waarskynlikheid en bedrag van skade weens slegte skuld te voorkom, of minstens te verlaag. Dis implementering van hierdie maatreëls waarop die besigheid behoort te fokus ten einde die risiko van slegte skuld tot aanvaarbare vlakke te verminder. Voorkomende maatreëls kan die nagaan van kliënte se kredietrekords voordat goedere op krediet aan hulle verkoop word, insluit, sowel as die implementering van ‘n voorafgoedgekeurde kredietlimiet per kliënt.

  1. Monitor die finansiële risikobestuursplan

Hersien die finansiële risikobestuursplan gereeld om te verseker dat dit tred hou met die veranderende omstandighede van die besigheid en steeds effektief is in die vermindering van huidige finansiële risiko’s.

As die bostaande voorbeeld van potensiële slegte skuld gebruik kan word, kan gereelde ondersoeke van die debiteure se ouderdomsanalise ‘n toename in uitstaande bedrae toon wat daarop kan dui dat die kredietbeleid vir kliënte hersien en opgedateer moet word.

Behoorlike finansiële risikobestuur kan ‘n besigheid se kanse op sukses en winsgewendheid aansienlik verbeter. Indien u ‘n finansiële risikobestuursplan wil implementeer of vermoed dat die huidige finansiële risikobestuursplan verouderd is, kontak gerus u finansiële raadgewer vir professionele bystand.

Verwysingslys:

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van die artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde raad. (E&OE)

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X