KORPORATIEWE BEHEER – ’N REFLEKSIE

DISTRIBUTIONS TO BENEFICIARIES OF AN EMPLOYEE TRUST
January 17, 2020
Understanding the Diesel Refund Scheme
February 5, 2020

Die einde van 2019 het aangebreek. Ons het dit dus goedgedink om ʼn kort opsomming vir u te gee van die belangrike onderwerpe wat gedurende die jaar aangeraak is. 

CIPC JAARLIKSE OPGAWES 

In terme van Artikel 33 van die Maatskappywet No. 71 van 2008 (“die Wet”), word daar van alle maatskappye en beslote korporasies vereis om jaarlikse opgawes by die “Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom” (“CIPC”) in te dien. 

Die doel van die jaarlikse CIPC-opgawe is om te bevestig dat:  

  • ʼn entiteit nog in besigheid is; 
  • ʼn entiteit handeldryf; en 
  • ʼn entiteit in die nabye toekoms nog handeldrywend gaan wees. 

Jaarlikse opgawes kan slegs elektronies op die CIPC webtuiste ingedien word en binne die volgende voorgeskrewe tydperke. In die geval waar ʼn entiteit dormant is, word daar steeds van die entiteit verwag om ʼn jaarlikse opgawe by die CIPC in te dien ten einde deregistrasie te vermy. 

Gedurende Februarie 2016, het CIPC ‘n program geloods om eXtensible Business Reporting Language (“XBRL”) te loots wat sal dien as ‘n digitale vorm van finansiële verslaggewing vir entiteite in Suid-Afrika. Entiteite wat deur wetgewing verplig is om hul finansiële state in te dien saam met hul jaarlikse opgawe, sal dit dus in XBRL formaat moet indien. 

DIE AARD VAN BESLOTE KORPORASIES 

‘n Beslote korporasie het nie aandeelhouers nie, maar het lede. ‘n Beslote korporasie is ‘n afsonderlike regspersoon en staan onafhanklik en verwyderd van sy lede. ‘n Beslote korporasie kan uit tussen een en tien lede bestaan. Die beperking op die aantal lede in ‘n beslote korporasie beklemtoon die Wetgewer se bedoeling dat beslote korporasies bestem is vir kleiner ondernemings, waar die verhoudings tussen die lede soortgelyk is aan dié van vennote.  

Slegs natuurlike persone mag lede van ‘n beslote korporasie wees en geen regspersone mag ‘n ledebelang in ‘n beslote korporasie hou nie. ‘n Maatskappy of beslote korporasie kan dus nie ‘n lid van ‘n beslote korporasie wees nie. ‘n Beslote korporasie mag wel ‘n lid van ‘n maatskappy of vennootskap wees – ‘n beslote korporasie kan selfs die beherende aandeelhouer van ‘n maatskappy word.  

‘n Trustee van ‘n trust, hetsy ‘n inter vivos of testamentêre trust. kan in die hoedanigheid van trustee lid van ‘n beslote korporasie wees. Daar bestaan egter sekere beperkings op die toelating van ‘n trustee van ‘n trust inter vivos om ‘n lid te wees, soos die vereiste dat geen regspersoon ‘n begunstigde van sodanige trust kan wees nie.  

PBO’S NPO’S EN NPC’s 

Daar bestaan baie verwarring rondom die onderskeid tussen ‘n ‘Openbare Weldaadsorganisasie (“PBO”)’, ‘Nie-winsgewende Organisasie (“NPO”)’ en ‘n ‘Nie-winsgewende Maatskappy (“NPC”)’. Alhoewel daar soortgelyke karaktereienskappe tussen hierdie liefdadigheid-entiteite bestaan, en alhoewel hulle in ‘n sekere mate met mekaar verbind is, is elkeen van hierdie tipe entiteite verskillend van die ander een en dien elkeen ‘n ander doel.  

Elk van die voornoemde entiteite word ook by verskillende regerings-organisasies en departemente geregistreer, wat die onderskeid verder beklemtoon. 

‘n NPO word gedefinieer deur die Nie-winsgewende Organisasie-Wet No. 71 van 1997 as ‘n trust, maatskappy of enige ander assosiasie van individue wat gestig word vir: 

  1. ‘n publieke doel en; 
  2. waarvoor die inkomste en eiendom nie verdeel word onder die direkteure of lede andersins as vir die verkryging van redelike vergoeding vir dienste gelewer aan die entiteit nie. 

‘n NPC word gedefinieer deur die Maatskappy Wet No 71 van 2008 (“die Wet”) as “‘n maatskappy wat:  

  1. geïnkorporeer word vir openbare voordeel soos vereis word deur item 1(1) van Skedule 1 van die Wet en; 
  2. b) waarvan die inkomste en eiendom nie verdeel word onder die direkteure, beamptes of persone watenigsins verbind is tot die maatskappy nie.” ‘n Organisasie moet aansoek doen om geregistreer te word as ‘n NPC by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (“CIPC”). Die organisasie sal dan dieselfde eienskappe en voordele hê van ‘n privaat of openbare maatskappy. ‘n NPC kan geregistreer word met of sonder lede. 

Die Inkomstebelastingwet 58 van 1962 (“die Inkomstebelastingwet”) definieer ‘n PBO as enige organisasie wat:  

  1. ‘n nie-winsgewende maatskappy, trust of assosiasie van persone is soos gedefinieer in artikel 1 van dieWet wat geïnkorporeer of gevorm is in terme van wetgewing; of  
  2. enige tak van ‘n maatskappy, assosiasie of trust wat geïnkorporeer of gevorm is  en wat vrygestel is van inkomstebelasting waarvan die hoofdoelwit is om een of meer openbare belang aktiwiteite te dryf waar –
  • sulke aktiwiteite uitgevoer word op ‘n nie-winsgewende manier met ‘n filantropiese bedoeling; en 
  • hierdie aktiwiteite nie bedoel is om direk of indirek enige belanghebbende persoon of werknemer van die organisasie ekonomies te bevoordeel nie, andersins as vir betaling van redelike vergoeding vir die werknemer of belanghebbende persoon se diens aan die maatskappy, en 
  • die aktiwiteite wat deur die organisasie uitgevoer word vir die voordeel is van die wyer publiek. 

DIVIDENDVERKLARINGS 

Ingevolge Artikel 46 van die Wet, moet die direksie van die maatskappy die dividendverklaring goedkeur per skriftelike resolusie.  Die direkteure moet ook verklaar dat die solvensie- en likiditeitstoets toegepas is, soos vereis in Artikel 4 van die Wet, en dat hulle redelikerwys bevind het dat die maatskappy solvent en likied sal wees vir die 12 maande wat volg op die datum van die dividendverklaring. 

Die dividend moet aan die aandeelhouers van die maatskappy uitbetaal word, proporsioneel tot hul aandeelhouding in die maatskappy, nadat die direksie die dividendbelasting in ag geneem en teruggehou het.  Die dividendbelasting is betaalbaar aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (“SAID”) teen die laaste werksdag van die maand wat volg op die verklaring van die dividend. 

DIREKSIE VERGADERINGS 

Die Maatskappywet 71 van 2008 (“die Wet”) spesifiseer dat ‘n maatskappy en maatskappy aangeleenthede bestuur moet word onder die beheer van ‘n raad van direkteure, wie die bevoegdhede moet hê om al die magte en funksies binne die maatskappystruktuur te kan uitoefen. Die algemene magte van die raad van direkteure word gereguleer deur die Wet en mag ook beperk word in terme van die maatskappy se Memorandum van Inkorporasie (“MOI”). 

Daar word van die direkteure van ‘n maatskappy vereis om hul magte op so manier uit te oefen om uitvoering te gee aan effektiewe bestuur van die maatskappy deur middel van besluite en resolusies wat goed gekeur moet word by direksie vergaderings.  

Die vergaderings moet behoorlik belê word deur ‘n kennisgewing van die vergadering wat aan elke lid van die direksie gegee moet word en ‘n behoorlike quorum wat teenwoordig moet wees voordat enige vergadering kan voortgaan en daar op enige aangeleentheid besluit mag word.  

‘n Direksie vergadering mag enige tyd byeen geroep word deur ‘n direkteur wie gemagtig is deur die raad van direkteure om so te doen. Onderhewig aan die maatskappy se MOI, wat ‘n groter of laer persentasie kan voorskryf, moet ‘n direksie vergadering byeengeroep word as ten minste 25% van die direkteure een vereis in die geval waar die maatskappy 12 of meer direkteure het, of deur ten minste 2 direkteure waar die maatskappy uit minder as 12 direkteure bestaan.

This article is a general information sheet and should not be used or relied upon as professional advice. No liability can be accepted for any errors or omissions nor for any loss or damage arising from reliance upon any information herein. Always contact your financial adviser for specific and detailed advice. Errors and omissions excepted (E&OE)