Leef veilig – Neem verantwoordelikheid

Employment Tax Incentive: Why say no to R1280 per month per qualifying employee
October 13, 2017
Income tax: Deduction of medical expenses
January 25, 2018

Jy is verantwoordelik vir jou eie veiligheid. Jou ingesteldheid moet van só ’n aard wees dat jy nie ’n teiken van jouself maak nie. Maak ’n gewoonte daarvan om paraat te wees; wees te alle tye bewus van wat rondom jou aangaan, en waar moontlike gevare is. Alhoewel die polisie en sekuriteitsmaatskappye ’n rol speel in jou veiligheid, begin persoonlike veiligheid egter by JOU! 

Voorkom gevaar

Jou verantwoordelikheid vir veiligheid begin tuis; maak seker dat jy veilig leef in jou eie huis. Dit strek egter ook verder as dit; jy moet ook paraat wees as jy die huis verlaat. Maak veiligheid ’n leefstyl, en stel veiligheidsmaatreëls in om jou en jou familie te beskerm. 

Tuis

Is jy seker jou huis is veilig?

  • Sluit die veiligheidshekke. Dit sal nie noodwendig misdadigers keer nie, maar dit gee jou tyd om te reageer.
  • Kry addisionele sisteme in plek vir vroeë waarskuwings van inbrekers. Gooi gruis rondom jou huis en installeer beligting in die tuin, wat deur beweging geaktiveer word.
  • Skakel die alarmstelsel aan sodra almal rustig begin verkeer binne die huis. Inbrekers vat hulle kans wanneer ’n mens dit die minste verwag.
  • Probeer om roetine sovêr moontlik te vermy. Wanneer jou bewegings onvoorspelbaar is, is jy ’n moeiliker teiken.
  • Rapporteer enige verdagte persone wat in jou buurt rond beweeg. Wees bedag daarop dat misdadigers strategieë gebruik om hulle verkenning te doen; hulle sal byvoorbeeld voorgee dat hulle iets wil koop of verkoop.
  • Moet nooit inligting gee aan onbekende persone wat jou bel nie. Hoe meer iemand van jou weet, hoe meer is jy geneig om geteiken te word. Misdadigers kan byvoorbeeld voorgee dat hulle aan ’n sekere maatskappy behoort. Moenie vrae soos, “Wanneer is jou man tuis?” beantwoord nie.
  • Skep ’n veilige sone in die huis. Verkieslik by die slaapkamers, aangesien julle snags daar verkeer. Installeer ’n veiligheidshek in die gang, wat dien as ’n ekstra versperring waardeur gebreek moet word.  

Op die pad

Jy mag dalk veilig voel in jou motor, maar wat as jou motor gaan staan?

  • Stel jou familie in kennis van die roete wat jy sal volg en hoe laat hulle jou kan verwag by jou bestemming.
  • Vermy bekende gevaarlike gebiede sovêr moontlik.
  • Maak seker dat jy noodnommers op jou selfoon het indien jy dalk langs die pad staan met ’n onklaar voertuig. Maak seker jou selfoon is altyd gelaai.
  • Hou altyd ’n bottel pepersproei in jou handsak. 

Wees in beheer

Indien jy jouself bevind in ’n gevaarlike situasie, soos om met ’n geweer aangehou te word, is dit nodig om voorbereid te wees. Probeer jouself eers uit ’n situasie te praat. Gaan slegs oor tot selfverdediging indien jy seker is jy kan jou aanvaller oorweldig of as dit ’n saak van lewe en dood is. Teiken sagte plekke, enige alledaagse items binne bereik kan gebruik word:

  • Sleutels: Knyp dit tussen jou vingers vas en slaan of steek die misdadiger.
  • Pen: Steek die misdadiger met die skerp punt.
  • Deodorant: Spuit dit in die misdadiger se oë. 

Deur ’n veilige leefstyl te leef, sal jy nie jouself onnodig aan gevare blootstel nie. Kry versekering om jouself te beskerm; dit sal jou dek wanneer jy deur misdadigers oorval word. Die koste van jou veiligheid moet ook opgeweeg word teen die alternatief, naamlik trauma en lewensverlies. Trauma kan jou hele lewe ontwrig en daarom moet jy voorsorgmaatreëls in plek hê om jou en jou familie te beskerm.

Hierdie artikel is algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X