Belastingseisoen 2016: Sperdatum vir nie-voorlopige belastingbetalers

Removing directors of a company
October 12, 2016
Impermissible exchange control “loop structures”
October 26, 2016

week_03Heelparty van ons kliënte is nie vir voorlopige belasting geregistreer nie en daar word ook nie van hulle verwag om só geregistreer te wees nie. Hierdie nie-voorlopige  belastingbetalers behoort egter kennis te neem dat hul jaarlikse belastingopgawes (vir die 2016-jaar van aanslag wat op 29 Februarie 2016 ten einde geloop het) binnekort verskuldig is en nie eers op 31 Januarie 2017  soos die geval is vir natuurlike persone wat ook vir voorlopige belasting geregistreer is nie.

Alle maatskappye word outomaties vir voorlopige belasting geregistreer. Nie-voorlopige belastingbetalers is dus tipies individue wat min of geen inkomste buiten ‘n salaris verdien nie. Hierdie belastingbetalers behoort dringend aandag  te  skenk aan hul jaarlikse belastingopgawes ten einde die naderende sperdatum van 25 November 2016 vir individue wat opgawes by wyse van SAID se eFiling stelsel indien, te haal. (Die weinige individue wat steeds opgawes per hand indien moes hul opgawes reeds teen 23 September 2016 ingedien het.)

In Staatskoerant No. 40041 van 3 Junie 2016 word die persone wat jaarlikse  belastingopgawes vir die 2016-jaar van aanslag moet indien, geïdentifiseer. Die primêre vrystelling van die vereiste om ‘n opgawe in te dien vir inwonende natuurlike persone, is van toepassing as die persoon in die jaar slegs ‘n salaris wat nie R350 000 oorskry nie van ‘n enkele werkgewer ontvang het en rente-inkomste van die persoon ook minder as R23 800 beloop het (of R34 500 as die persoon ouer as 65 is). Die teendeel geld natuurlik ook, wat beteken dat as ‘n persoon inkomste wat enige van hierdie bedrae oorskry, verdien het, hy of sy ‘n inkomstebelastingopgawe vir die 2016-belastingjaar moet indien.

In die Staatskoerant word ook die datums aangegee waarteen die betrokke persone hul opgawes moet indien. Voorlopige belastingbetalers het jaarliks ‘n ietwat minder streng sperdatum vir die indiening van hul opgawes, in teenstelling met nie-voorlopige belastingbetalers. Dit beteken dat nie-voorlopige belastingbetalers besonder bedag moet wees op die sperdatum vir die indiening van hul jaarlikse belastingopgawes vir die 2016-belastingjaar.

Ons herinner derhalwe  ons kliënte aan hul verpligtinge  teenoor SAID vir die indiening van opgawes en om betyds met ons in verbinding te tree sodat ons die nodige inligting kan versamel om hulle hiermee te help. Versuim om opgawes betyds in te dien mag boetes tot gevolg hê, asook dat rente kan oploop op hul rekeninge wat aan SAID verskuldig is. Administratiewe boetes spesifiek vir nie-nakoming sal gehef word as ‘n persoon meer as een uitstaande  jaarlikse belastingopgawe het.

Hierdie artikel is algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X