Jou primêre woning en kapitaalwinsbelasting

New proposed tax amendments
August 17, 2016
Personal service companies
September 9, 2016

a1Kapitaalwinsbelasting is ‘n ietwat verkeerde benaming omdat dit nie ‘n belasting as sodanig verteenwoordig nie maar eintlik daarop neerkom dat ‘n gedeelte van ‘n persoon se kapitaalwins wat gerealiseer word wanneer ‘n bate verkoop word, by die persoon se belasbare inkomste ingesluit word, welke belasbare inkomste onderhewig is aan inkomstebelasting. In die geval van natuurlike persone word 40% van kapitaalwins wat op bates gerealiseer word by belasbare inkomste ingesluit terwyl die insluitingskoers vir regspersone 80% beloop.

Die verkoop van vaste eiendom sou tipies ‘n betekenisvolle kapitaalwins tot gevolg hê. Waar die eiendom wat verkoop word die primêre woning van die verkoper is, is daar egter sekere uitsluitings van toepassing wat die uiteindelike belastingaanspreeklikheid van die verkoper verminder en dikwels selfs die kapitaalwinseffek  van die transaksie heeltemal uitwis.

Paragraaf 44 van Skedule 8 van die Wet op Inkomstebelasting, 58 van 1962, definieer woning as “any structure, including a boat, caravan or mobile home, which is used as a place of residence by a natural person, together with any appurtenance belonging thereto and enjoyed therewith.” Die uitsluiting is egter nie van toepassing op enige woning nie maar slegs op ‘n persoon se primêre woning. ‘n Primêre woning word dan gedefinieer as  “a residence—

(a) in which a natural person … holds an interest; and

(b) which that person … or a spouse of that person … ordinarily resides or resided in as his or her main residence and uses or used mainly for domestic purposes…”

Dit is dus teoreties moontlik dat die uitsluiting nie van toepassing is op vakansiewonings nie. Die Wet bepaal dan ook duidelik dat ‘n persoon nie op enige stadium meer as een primêre woning mag besit nie.

Die uitsluiting wat geld vir die verkoop van primêre wonings is betekenisvol en kan op een van twee potensiële maniere toegepas word. Eerstens, as die verkoopprys van die  primêre woning minder as R2 miljoen is, is geen kapitaalwinsbelasting betaalbaar nie. Tweedens, al sou die verkoopprys meer as R2 miljoen wees, is tot soveel as R2 miljoen van die kapitaalwins nie onderhewig aan inkomstebelasting nie.

As twee persone dieselfde eiendom as primêre woning gebruik en gesamentlik die eiendom besit, word die R2 miljoen tussen die twee verdeel. Anders gestel, die uitsluiting is van toepassing per eiendom en nie per persoon nie. Sou, byvoorbeeld, ‘n man en sy vrou ‘n huis besit wat hulle teen ‘n wins van R3 miljoen verkoop is elkeen belasbaar op R500 000 se winswaarde (d.w.s. R1,5 miljoen minus R1 miljoen elk).

Hoewel die uitsluiting betekenisvol is  behoort dit nie as vanselfsprekend aanvaar te  word nie. Baie belastingbetalers fouteer deur hul primêre woning aan ‘n trust oor te dra vir boedelbelastingdoeleindes en verbeur sodoende die potensiële primêrewoning-uitsluiting as die eiendom in die toekoms verkoop word; volgens die definisies hierbó kan nie-natuurlike persone nie ‘n primêre woning besit nie en dus word trusts en maatskappye uitgesluit van die verligting wat gebied word.

Hierdie artikel is algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X