Begrotings: Is dit die moeite werd?

Tax rates announced in the budget
April 25, 2016
Die implikasies van boedelbelasting
May 11, 2016

A3Baie klein besighede word deur die eienaar self bestuur, veral aanvanklik wanneer die besigheid op sy voete kom. Aangesien die eienaar intiem betrokke is by die dag tot dag verloop van sake is dit maklik om beheer oor die uitgawes uit te oefen. Soos die besigheid egter groei, mag dit nodig word om werknemers aan te stel om hom te ondersteun in die bestuur van die besigheid.

Dit is onvermydelik dat die dag sal aanbreek wat die eienaar sekere finansiële pligte aan werknemers moet delegeer en hulle moet vertrou met die taak om die besigheid se fondse met verantwoordelikheid te bestuur. Dit is waar ‘n begroting en die begrotingsproses van onskatbare waarde kan wees.

Eenvoudig gestel is ‘n begroting ‘n finansiële plan vir ‘n sekere periode in die toekoms, gebaseer op ‘n kombinasie van die huidige finansiële posisie en ‘n projeksie van verwagte inkomste en uitgawes vir gemelde tydperk. Deur ‘n besigheid se inkomste, uitgawes en finansiële doelwitte in een plan te kombineer, kan ‘n duidelike prentjie gevorm word van waar die besigheid is in finansiële terme en hoe om te werk te gaan om die gestelde doelwitte te bereik.

Wanneer ‘n begroting opgetrek word, is dit nodig dat die eienaar en/of bestuur doelwitte vir die besigheid stel en beplan hoe om dit te finansier. Indien daar meer as een doelwit is, moet die doelwitte geprioritiseer word om vas te stel watter doelwit(te) die fokuspunt sal wees tydens die tydperk van die begroting.

‘n Deeglike begroting behoort te verseker dat die besigheid genoeg kapitaal beskikbaar het wanneer dit benodig word vir groot uitgawes soos om duur toerusting te vervang of nuwe besigheidsinisiatiewe na te volg. Deur die finansiële implikasies van toekomstige groei en uitbreiding in die begroting in te sluit, kan verseker word dat die besigheid kapitaal beskikbaar het wanneer vinnige besluite geneem moet word rakende geleenthede om die besigheid uit te brei.

‘n Begroting kan u help om vooruit te beplan wanneer u geld sal nodig hê en watter bedrag, sodat krisisse weens ‘n tekort aan fondse voorkom kan word. Dit is veral belangrik vir besighede met seisoenale besigheidsiklusse om ‘n veiligheidsnet te hê vir die maande wanneer daar min besigheid is.

‘n Begroting dien as ‘n gids om begrip by werknemers te kweek vir die prioriteite wat die eienaar vir die besigheid stel. ‘n Begroting sal tipies doelwitte vir inkomste en uitgawes vir elke departement of kostesentrum stel. Dit is egter belangrik dat die doelwitte realisties en haalbaar is, en dat elke bestuurder bewus is van wat die eienaar se verwagtings vir die tydperk van die begroting is.

Tydens die opstel van die begroting word elke uitgawe onder die vergrootglas geplaas. Dit is die ideale geleentheid om vas te stel watter uitgawes noodsaaklik is en watter uitgeskakel kan word.

‘n Begroting kan die bestuur van hulp wees in die beheer van uitgawes deur grense vas te stel, sodat spandering wat nie in ooreenkoms is met die toekomstige sakeplanne nie, ingekort kan word. Deur spandering aan onbeplande uitgawes in te kort, kan verseker word dat geld aan die belangrike areas gespandeer word.

Wanneer ‘n begroting opgetrek is, kan die eienaar en bestuur hul vordering en prestasie aan die begroting meet. Indien bevind word dat hulle van die syfers wat begroot is, afgewyk het, kan hulle die gepaste stappe neem of, indien die begroting onrealisties was, sal die begroting moontlik aangepas moet word. ‘n Begroting is ‘n buigsame instrument wat aangepas kan word indien dit nie werk nie of indien die omstandighede waarop die begroting gebaseer is, verander.

Omdat marktoestande, tegnologie en indiensnemingsvereistes voortdurend verander, sal ‘n begroting gereeld hersien moet word ten einde van waarde te wees.

Kennis is mag en om ‘n begroting op te stel, sal aan die eienaar gedetailleerde inligting rakende sy besigheid se huidige posisie, potensiële bestemmings en moontlike finansiering vir die roete vanaf die huidige posisie tot by die eindpunt verskaf. Die vraag wat in die opskrif gestel word, naamlik of begrotings die moeite werd is, kan dus met ‘n luide “Ja!” beantwoord word.

Verwysingslys:

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van die artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde raad. (E&OE)

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X