Aftreefondse en Egskeiding: Die belasting-implikasies

Star Hill’s winemaking philosophy
January 26, 2016
Incentivising non-retirement savings in South Africa through Tax free savings accounts
February 25, 2016

A7Hierdie artikel ondersoek die belasting-implikasies waar ‘n lid van ‘n aftreefonds en sy/haar gade skei en die lidgade se aftreevoordele tussen hom-/haarself en die nie-lidgade verdeel moet word.

Waar die nie-lidgade ‘n deel van die lidgade se aftreefonds ontvang volgens die egskeidingsbevel, moet die tipe fonds vasgestel word aangesien die lidgade se belang in die aftreefonds (die fondsbelang) verskillend bereken word afhangende van die tipe fonds waaraan die lidgade behoort.

In die geval van pensioen- en voorsorgfondse word die lidgade se fondsbelang vasgestel as die bedrag waarop die lidgade geregtig sou wees indien hy/sy uit die fonds sou bedank op die datum van egskeiding.

Waar ‘n uittree-annuïteitsfonds betrokke is, word die bedrag van die lidgade se fondsbelang volgens die volgende formule bepaal:

Totale bydraes tot uittree-annuiteïtsfonds tot op datum van egskeiding

plus

Jaarlikse eenvoudige rente* op die bedrag van die totale bydraes tot op datum van egskeiding

* teen SAID se voorgeskrewe rentekoers op die datum van egskeiding

Die deel van die fondsbelang wat die nie-lidgade toekom, word gewoonlik as ‘n persentasie bereken, bv. 30% van die bedrag van die lidgade se belang in ‘n aftreefonds.

Wanneer die nie-lidgade hul deel van die fondsbelang ontvang, word die belasting-implikasies in terme van die Wet op Inkomstebelasting geaktiveer. Volgens die Wet op Inkomstebelasting is die lidgade verantwoordelik vir die betaling van Inkomstebelasting op die bruto deel van die pro rata fondsbelang wat deur die nie-lidgade ontvang is asof dit deur die lidgade ontvang is.

Die Wet op Inkomstebelasting bepaal verder dat die pro rata deel van die fondsbelang toeskryfbaar aan die ni-lidgade reeds in die hande van die lidgade belasbaar is al het dit bloot aan die nie-lidgade toegeval – die pro rata bedrag hoef nie werklik deur die nie-lidgade ontvang te word voordat die belasting-implikasies vir die lidgade realiseer nie. Die lidgade sal dus verantwoordelik wees vir betaling van Inkomstebelasting op die nie-lidgade se pro rata deel van die fondsbelang wanneer dit toeval aan of ontvang word deur die nie-lidgade, welke gebeurtenis ook al eerste plaasvind.

Volgens die Wet op Inkomstebelasting het die lidgade ‘n outomatiese reg om die Inkomstebelasting wat aan SAID betaal is, van die nie-lidgade te verhaal. Die netto bedrag wat die nie-lidgade gaan ontvang, sal dus soos volg bereken word:

Bruto bedrag van pro rata fondsbelang toegedeel aan nie-lidgade

minus

Inkomstebelasting verskuldig daarop

Die belasbaarheid van die nie-lidgade se deel hou wesenlike gevolge vir albei gades in. Daar is kontantvloei implikasies vir die lidgade indien hy/sy die belastinguitgawe moet dra totdat dit van die nie-lidgade verhaal kan word. Die grootste finansiële gevolg vir die nie-lidgade is dat die netto bedrag van die fondsbelang wat hulle in werklikheid ontvang nadat die lidgade die belasting van hul verhaal het, aansienlik minder kan wees as die bruto bedrag van die fondsbelang.

Dit is van kardinale belang dat albei gades professionele advies inwin rakende die belasting-implikasies van hul egskeidingskikking voordat die skikkingsooreenkoms gefinaliseer word ten einde wesenlik nadelige finansiële implikasies vir albei gades te verhoed.

 

Verwysingslys:

Toegang verkry op 29 September 2015

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van die artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde raad. (E&OE)

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X