IFRS’e vir KMO’s: Erkenning van inkomste uit die verkoop van goedere

Why SARS requests supporting documents
August 24, 2015
Appointing a financial manager: Do you know what to look for?
August 24, 2015

A2Dit word algemeen aanvaar dat verkoopstransaksies van goedere inkomste genereer sodra die transaksie plaasvind. In terme van die Internasionale Finansiële Verslagdoeningstandaarde (IFRS’e) vir Klein- en Middelslagondernemings (KMO’s) word ‘n verkoopstransaksie egter eers as inkomste vir boekhoudingsdoeleindes aangeteken wanneer aan sekere vereistes voldoen is en teen ‘n waarde wat bepaal is volgens die riglyne soos uiteengesit in die IFRS’e vir KMO’s. In hierdie artikel word die vereistes en riglyne vir verkoopstransaksies, sowel as transaksies waar goedere geruil word, bespreek. 

Verkoop van goedere

Al vyf vereistes wat hieronder gelys word, moet nagekom word voordat ‘n verkoopstransaksie as inkomste in die boeke van die verkoper aangeteken kan word:

  1. Die betekenisvolle risiko’s en belonings van eienaarskap van die goedere moet oorgedra wees van die verkoper na die koper.

Normaalweg sal die oordrag van risiko’s en belonings van eienaarskap plaasvind óf wanneer die koper besit van die goedere neem óf met die oordrag van die wettige titel van die goedere.

‘n Transaksie sal in die boeke as inkomste aangeteken word indien die verkoper slegs ‘n onbeduidende risiko van eienaarskap behou soos wanneer die verkoper die wettige titel behou alleenlik om die invorderbaarheid van die inkomste te beskerm. ‘n Voorbeeld van hierdie soort transaksie sal wees waar ‘n bank geld aan ‘n kliënt leen om ‘n motor te koop, maar die motor sal slegs in die naam van die koper geregistreer word sodra die koper die volle leningsbedrag aan die bank terugbetaal het.

Wanneer die verkoper aanbied om ‘n terugbetaling (“refund”) aan die koper te maak, bv. indien die goedere foutief is, sal die inkomste steeds aangeteken word indien die verkoper ‘n betroubare raming van terugbetalings kan maak. Die bedrag van die beraamde terugbetalings word nie van die verkoopsprys van goedere afgetrek nie, maar ‘n voorsiening vir terugbetalings word geskep en afsonderlik van die inkomste uit die transaksie in die boeke van die verkoper erken.

Indien die verkoper die betekenisvolle risiko’s van eienaarskap behou, bv. besendingsvoorraad, waar die koper eers die goedere moet verkoop voordat die verkoper sy deel van die verkoopprys ontvang, sal inkomste nie in die boeke van die verkoper aangedui word alvorens die goedere deur die koper verkoop is nie.

  1. Die bedrag van inkomste uit die verkoop van goedere moet betroubaar gemeet kan word:

Die inkomste uit die verkoopstransaksie sal gelykstaande wees aan die billike waarde van die bedrag ontvang of wat ontvang moet word. Die billike waarde word as volg bereken:

Verkoopsprys van goedere R xxx
Minus enige handelsafslag (R    x)
Minus vroeë betalingskorting (R    x)
Minus volumekorting (R    x)
Bedrag erken as inkomste in boeke van verkoper (billike waarde) R   xx

In die geval waar die verkoper as agent vir ‘n ander persoon optree, sal die verkoper slegs sy kommissie as inkomste insluit. Die bedrag wat namens die ander party (prinsipaal of opdraggewer) ingevorder word, sal nie deel van die inkomste van die invorderaar uitmaak nie.

‘n Bedrag wat namens ‘n derde party ingevorder word, sal nie as inkomste in die boeke van die verkoper aangeteken word nie, bv. die BTW-gedeelte wat by die verkoopprys van goedere ingesluit word.

  1. Die koste verbonde aan die transaksie kan betroubaar gemeet word.
  1. Dit is waarskynlik dat die ekonomiese voordele verbonde aan die verkoopstransaksie na die verkoper sal vloei.
  1. Die verkoper se bestuursbetrokkenheid of effektiewe beheer geassosieer met eienaarskap van die verkoopte goedere word beёindig. 

Ruil van goedere

Wanneer goedere geruil word vir soortgelyke artikels van dieselfde waarde sal die verkoper dit nie as inkomste in sy boeke aandui nie.

Wanneer goedere geruil word vir artikels wat nie soortgelyk is nie en die transaksie geen kommersiële  waarde het nie, sal die verkoper inkomste uit die ruiltransaksie erken:

  • Teen die billike waarde van die goedere wat ontvang is minus die bedrag van enige kontantbetalings en/of oordrag van enige kontant-ekwivalent aan die ander party tot die ruiltransaksie;
  • Indien die billike waarde van goedere wat ontvang is nie akkuraat bereken kan word nie, sal inkomste gelykstaande wees aan die billike waarde van die goedere wat prysgegee is minus die bedrag van enige kontantbetalings en/of oordrag van enige kontant-ekwivalent aan die ander party;
  • Indien nóg die billike waarde van die goedere wat ontvang is, nóg die billike waarde van goedere wat prysgegee is, betroubaar bereken kan word, sal inkomste gelykstaande wees aan die drabedrag van goedere wat prysgegee is minus enige kontantbetalings en/of oordrag van enige kontant-ekwivalent aan die ander party.

Soos duidelik blyk uit hierdie bespreking moet die riglyne rakende die rapportering van inkomste van verkoopstransaksies en ruiltransaksies versigtig oorweeg en toegepas word volgens die unieke omstandighede betrokke by elke transaksie.

Vir enige verdere inligting oor bogenoemde onderwerp, raadpleeg asseblief u boekhouer. 

Hierdie artikel bevat slegs algemene inligting en moenie gebruik of beskou word as professionele raad nie. Geen aanspreeklikheid word aanvaar vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade weens vertroue op hierdie inligting nie. Raadpleeg altyd u finansiële raadgewer vir spesifieke  en gedetailleerde advies. 

Verwysingslys:

IFRS for SMEs 2009 deur IASB

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X